Beautiful in Beaufort-Wes
- Caylin du plooy
- Aug 9, 2022
- 3 min read

Dit is stil hier in die klein dorpie, Beaufort-Wes in die Karoo. Die wind waai en iewers hoor ek die gelag van mense in die stowwerige pad. Die son is besig om te sak- dit is een van die mooiste sonsondergange wat ek al ooit beleef het. Toe het ek nog groot gedroom, gedroom soos net ‘n kind kan.
Desember vakansies was een van my gunsteling vakansies as ‘n kind. Die opgewondenheid as ek my tassie moes pak, die vroeg opstaan om betyds die bus te kry, maak mens kinderlik opgewonde.
Ek onthou nog my eerste busrit Beaufort-Wes toe, ek was toe in Graad 3. Dit was net ek en my ma. Ons moes by Parkstasie in Johannesburg op die bus klim, ‘n vreemde belewenis.
Drie uur die oggend het die bus by die Engen vulstasie in Colesberg stilgehou. Ek het geslaap en my ma het gou vir ons ietsie gaan kry om te eet. Tot haar groot ontsteltenis was die bus nie meer daar waar hy geparkeer het nie, hy was weg! Die bus het intussen net agter die gebou gaan stilhou om diesel in te gooi. My arme ma het gedink die bus het weg gery met my, nog slapend daarbinne!
In Beaufort-Wes het ons by ‘n vriend van my ma tuisgegaan, hy was die eienaar van ‘n gastehuis,
94@Donkin, die eertydse hotel in die hoofstraat.
Dit was ‘n ervaring. Daar is baie intressante plekke in die klein dorpie om te besoek. Oorkant die gastehuis is die museum, die Christian Barnard Museum. ‘n Bietjie geskiedenis van hierdie museum: Die uniekheid van hierdie museum is dat dit die oorspronklike versameling van professor Chris Barnard huisves. Langs die museum is die huis en kerk van Ds. Adam Barnard, die wêreldbekende hartchirurg, prof. Chris Barnard se pa. Ds. Adam Barnard het die gemeenskap as sendeling bedien en hy en sy gesin het in die pastorie langs die NG Sendingkerk gebly. In hierdie pastorie is prof. Christiaan Neethling Barnard gebore op 8 November 1922. Die pastoriehuis is deel van die museum en is gerestoureer en gemeubileer soos in die tyd wat die Barnard gesin daar gewoon het. Hierdie museum is defnintief ‘n besoek werd as jy weer deur Beaufort-Wes se hoofstraat ry.
Die pragtige Nederduitse Gereformeerde Kerk langs die pastorie het ‘n geskiedenis van 200 jaar oud. Binne in die kerk is ou hout bankies en vlekglasvensters, asook ‘n orrel wat 150 jaar oud is.
As jy lief is vir die natuur beveel ek aan dat jy defnintief die Karoo Nasionale Park moet gaan besoek. Hier is ‘n verskeidenheid van besienswaardighede wat jy by die park kan besoek. Begin op ‘n selfry-wildbesigtiging in die gerief van jou eie motor langs die park se 60km toeristepaaie. Dit is toeganklik vir meeste motors- daar is ook 4ˣ4 roetes en begeleide wildritte.
As jy hou van stap, kan jy die fossiel stap roete doen. Hierdie roete beeld die geologie en paleontologie van die Groot Karoo uit deur die egte fossiele en versteende hout wat langs die geplaveide wandelpad uitgestal word. Dan is daar ook ‘n voëlskuiling waar voëlkykers rustig die verskeie voëlspesies kan dophou. Die Bulkraal-piekniekplek spog met ‘n swembad, pragtige groen gras en braaigeriewe. Die Doornhoek-piekniekplek is geleë binne die wildsarea, die perfekte plek om te stop terwyl jy self deur die wildkykarea ry. Daar is ook akkomodasie beskikbaar in die park- die hoofruskamp met chalets, kampeer area en afsaal kothuise.
As jy lus is om aan iets te peusel na die lang dag se rondry en stap is daar verskeie oulike eet plekke wat jy kan besoek soos die “4 Sheep Restaurant Deli”, “Joe’s Easy Diner”, “Karushi”, “Red Canyon Spur”, “Ye Olde Restaurant” en veel meer plekke. As jy lus is vir nog ‘n groter avontuur stel ek voor dat jy ‘n rit in die Shosholoza Meyl trein met jou volgende besoek aan Beafort-Wes neem. Dit is heeltemal ‘n ervaring op sy eie. Glo my!
So, my mede reisigers… waarvoor wag jy? Moenie hierdie klein dorpie volgende keer mis kyk as jy weer op pad is Kaapstad toe nie. Hierdie dorpie hou baie skatte in wat die sak ook sal pas.




Kwaai
Baie mooi😁