Van ‘n Historiese kasteel tot by ‘n Akwarium
- Caylin du plooy
- Aug 23, 2022
- 3 min read

Neem my terug na Kaapstad. Ek verlang na die reuk van seewater en liggies wat in die nag glinster teen Tafelberg se skoonheid.
Dis Desember, dit is vakansie en weer tyd vir ‘n treinrit na Beaufort-Wes in die Karoo. Onverwags duik ‘n bonus trippie op vir die Meisie van die Suburbs. Verblyf in ‘n “studio apartment” in die Bo-Kaap, aan die voet van Seinheuwel. ‘n Uitsig oor die prentjie mooi “cobblestone” straatjies met die kleurvolle Kaapse Maleier huisies, ‘n simbool van Vryheid na die Apartheidsjare. Blykbaar die enigste plek ter wêreld waar dit teen die wet is om jou huis dieselfde kleur as jou buurman sin te verf.
Die paar dae se verblyf in Kaapstad moet ‘n mens goed benut en volgende besoek ek die Kasteel, die Goeie Hoop- die oudste gebou in Kaapstad.
Die Kasteel, wat tussen 1666 en 1679 gebou is, staan bekend as die oudste oorlewende gebou in Suid-Afrika en was vanaf ongeveer 1679 die middelpunt van die burgerlike, politieke en militêre lewe aan die Kaap. Die Kasteel was egter nie die eerste fort wat aan die Kaap gebou is nie. 'n Vierhoekige fort is gebou na die aankoms van Jan van Riebeeck in 1652 waar die Grand Parade en die hoofposkantoor vandag geleë is. Hierdie fort is teen die einde van 1653 voltooi en sy binneste strukture in 1656. Daar is egter voortdurend probleme ondervind: Die mure van die fort, wat hoofsaaklik uit klei gebou is, het ineengestort en het voortdurend herstelwerk vereis. 'n Model van hierdie oorspronklike fort kan in die Kasteel Militêre Museum gesien word. Driehonderd matrose, aangevoer van verbygaande skepe, soldate, plaaslike Khoikhoi, vroue en slawe is as arbeidsmag gebruik, klip gebreek en skulpe versamel wat in kalkoonde verbrand is. ’n Mens wonder dikwels wat die werklike menslike koste was om hierdie Europese vesting op Afrika-grond te bou. Binne die Kasteelmure was daar onder meer 'n kerk, bakkery, werkswinkels, woonkwartiere, kantore, selle en talle ander geriewe. Die selle is diep onder die kasteel gevestig en dit is redelik koud daar binne. Gee jou sommer koue rillings ook! Die geel verf op die mure is gekies omdat dit die glans van die sonlig verminder, en minder hitte weerkaats.
Lees meer oor die geskiedenis van die Kasteel hier: https://www.castleofgoodhope.co.za/index.php/news/100-news/149-history-of-the-castle
Nog ‘n bonus! Ons bly ‘n dag langer as die beplande twee dae. Die keer besluit ek om die Two Oceans akwarium by die Waterfront te besoek.
Die akwarium is op 13 November 1995 geopen en bestaan uit verskeie uitstallingsgalerye met groot uitkykvensters: Die akwarium is vernoem na sy ligging, waar die Indiese en Atlantiese Oseaan ontmoet. Die akwarium het ongelooflike diversiteit van seelewe wat in hierdie twee oseane voorkom. Hier sal jy ‘n verskeidenheid visse kry, van die grootste tot die kleinste en van die kleurvolste tot die eenvoudigste kleur visse. Die visse kom in alle vorms voor- jy sal seelewe ontdek wat jy nie eers geweet het bestaan nie! Hier is oor die 8 000 vreemde en wonderlike kreature. Two Oceans is die tuiste van baie spesies wat nie in enige ander akwarium gevind kan word nie. Byvoorbeeld, die vreemde en ietwat groteske stokvis- 'n antieke vis sonder kake, oë, vinne of skubbe. Dit produseer ook tot 5 liter slym wanneer dit bang word – en dit kan net by die Two Oceans Aquarium besigtig word.
Vind meer uit oor die akwarium by: https://www.aquarium.co.za/
Nou ja! Jy weet jy wil jou volgende besoek in Kaapstad by hierdie twee wonderlike plekke gaan aflê. Ek dink dit is weer tyd om jou tassie af te stof en te begin pak. Geniet die reis my mede reisigers.




Comments